Damelin-studente samel geld in vir diere
Nicolette Janse van Rensburg, Schalk du Plessis, ...show more
12 April 2011 | Nicolene Smalman
NELSPRUIT - Damelin-studente het Vrydag ‘n uiters kreatiewe potjiekoskompetisie ten bate van die plaaslike Dierebeskermings-vereniging (DBV) gehou en ‘n allemintige
R3 000 vir dié nie-winsgewende organisasie ingesamel.
Eerstejaar grafiese studente is aan die einde van die dag as die wenners aangewys nadat hulle ‘n liplek-lekker biltong- en pastapotjie aanmekaar geslaan het.
Elke span moes ‘n spesifieke tema uitbeeld. Die grafiese studente het die legendariese Rocky Horror Picture Show, oftewel Graphic Horror Picture Show, uitgebeeld.
Al die groepe se onderskeie potte is besonder kreatief aangebied - met pap, rys of tuisgebakte brood. Verskeie personeellede van Laeveld Media en MPowerFM het onder die beoordelaars getel en hulself knuppeldik geproe.
‘n Bakkie potjiekos is teen R25 verkoop en die studente kon daarin slaag om R1 554 se kos te verkoop. Damelin was so beïndruk met die studente se inisiatief dat hulle ‘n verdere kontantbydrae gemaak het. Hulle sal nou
R3 000 aan die DBV kan oorhandig.


